Bure, nie slotte, keer huisbraak
Jun 08 2009 08:42:46:960PM
Veiligheidsmaatreëls tuis verlaag nie noodwendig jou kanse om ’n slagoffer van huisbraak te word nie.
Susan Cilliers
Veiligheidsmaatreëls tuis verlaag nie noodwendig jou kanse om ’n slagoffer van huisbraak te word nie.
Hoe beter mense mekaar egter in ’n gemeenskap ken en na mekaar omsien, hoe kleiner die kans dat hulle sal deurloop.
Die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) het dié en ander bevindinge in ’n studie oor waar watter misdade die meeste in Suid-Afrika voorkom en wie die kwesbaarste slagoffers is, onlangs bekend gemaak.
Een uit elke vyf mense wat aan ’n meningspeiling vir dié studie in 2007 deelgeneem het, was in die voorafgaande 12 maande óf slagoffers van misdaad óf het gesien hoe iemand in hul huishoudings geteiken word.
Dit het geblyk misdadigers teiken ryker en groter huishoudings meer dikwels as hul armer, kleiner bure.
Inwoners van Gauteng en KwaZulu-Natal loop die grootste gevaar om hul besittings weens diefstal te verloor.
Die Wes- en Noord-Kaap is die provinsies waar geweldmisdade soos rooftogte en aanranding die meeste voorkom.
Bruin mense is die kwesbaarste bevolkingsgroep wat huisbrake betref, met swart mense kort op hul hakke.
Behalwe vir huisbrake, is stedelike Suid-Afrikaners meer gereeld die slagoffers van misdaad as hul plattelandse medeburgers. Eiendomsmisdaad is die mees algemene misdaad – altesame 81% van die respondente het eiendomsmisdaad beleef, terwyl 23% geweldmisdade beleef het.
Huisbraak, diefstal van persoonlike besittings, omkoopversoeke van regeringsamptenare en diefstal van eiendom uit motors was die mees algemene maniere waarop respondente deurgeloop het.
Vroeëre navorsing het gewys jonger mense in Suid-Afrika (veral tussen die ouderdom van 16 en 35) is waarskynlik meer dikwels slagoffers van geweldmisdaad.
Mense wat gereeld sosiaal verkeer en meer geneig is om alkohol te gebruik, se kanse is ook groter om slagoffers van misdaad te word.
Die ISS het in sy 2007-studie op die rol van die volgende risiko-faktore vir misdaad gefokus: demografiese faktore soos ouderdom, geslag en ouderdomsgroep; woongebied; sosio-ekonomiese status; veiligheidsfaktore in die gebied waar die respondente woon en omgewingsfaktore soos die mate waartoe mense in ’n bepaalde gemeenskap by mekaar betrokke is en mekaar beskerm.
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2527867,00.html