Maandelikse Argief vir August, 2009

Polisieman doodgeskiet wyl kollegas begrafnis hou

ALICESTINE OCTOBER

Kaapstad - Terwyl lede van die Kaapse metropolisie, verkeerspolisie en die SAPD Saterdag in Rocklands ’n ontslape kollega tydens sy begrafnisdiens gesalueer het, is ’n ander wetstoepasser in Constantia doodgeskiet.

Volgens kapt. André Venter, polisiewoordvoerder, is konst. Percy Masiu (32) dood nadat hy en ’n kollega op ’n oproep uit Constantia gereageer het.

Dit is presies ’n week sedert sers. Charles Komba, ’n metropolisiebeampte, doodgeskiet is toe hy ’n verkeersboete in Nyanga uitgeskryf het.

In Saterdag se voorval is ’n huisbraak kort voor 10:00 by die polisie aangemeld. Met die polisiebeamptes se aankoms is skote op hulle geskiet en Masiu is noodlottig gewond. Die eienaar van die huis is ook gewond.

Hy word onder polisiebewaking in die Vincent Palotti-hospitaal behandel.

Me. Jill Campbell, wat in dieselfde straat woon, het gesê dit is nie die eerste keer dat sy polisievoertuie by die betrokke huis sien nie. “Ek het ’n klomp skote gehoor en toe die polisiewaens gesien.”

Insp. November Filander, polisiewoordvoerder, het gesê die saak word ondersoek.

’n Volgepakte kerk in Rocklands, Mitchells Plain, het Saterdag van Komba afskeid geneem.

Vr. Richard Martin het in sy preek met verwysing na Kain se moord op sy broer Abel gesê die toepassers van ons wette is onder skoot.

“Hier is iemand dood – na bewering vir sy dienspistool,” het Martin gesê.

Martin het gesê Komba het ’n eed afgelê om die mense van die land te beskerm en te dien, en hy het ’n hoë prys daarvoor betaal.) Voorlopige syfers toon dat soveel as agt polisiebeamptes die afgelope jaar gewelddadig gesterf het.

Die Burger het betroubaar verneem vier van die sterfgevalle was dié van beamptes wat diens verrig het toe hulle dood is.

Die amptelike syfers sal eers in September bekend gemaak word.

Adv. Lennit Max, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, het gesê dit is kommerwekkend hoe wetstoepassers afgemaai word.

- Die Burger

Inbreker sterf ná broers hom in moordhuis kry

Hilda Fourie

n Moordsaak word ondersoek teen twee broers nadat hulle ’n dag voor hul pa se begrafnis ’n vermeende inbreker aangetref het in dieselfde huis waar hul pa enkele dae vantevore vermoor is.
Piet en Neels Lotterie het Vrydagaand omstreeks 20:00 gaan ondersoek instel by die huis in Doornfontein waar hul pa verlede Maandagaand vermoor is.
Die voordeur was oop en die ligte aan.
In ’n struweling met die Lotterie-broers is die man erg beseer. Die broers het die man, wat met ’n mes gewapen was, hospitaal toe geneem. Hy het later beswyk.
Die voorval het op dieselfde kleinhoewe plaasgevind waar die 65-jarige Wilhelm Lotterie Maandagaand vermoor is. Vyf rowers het hom op die stoep van die huis noord van Pretoria oorval.
Die Lotterie-broers het op dié dag ’n veldbrand geblus wat vermoedelik deur die rowers gestig is om inwoners uit hul huise te lok.
Die 23-jarige Jessica Lotterie moes met haar babaseun, Danté, (toe vier dae oud) in haar arms staan en kyk hoe die rowers haar skoonpa doodskop en -slaan.
Die Lotteries het sedert die voorval by familie tuisgegaan en daagliks by die kleinhoewe gaan inloer.
Kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, sê die broers het die vermeende inbreker Vrydag omstreeks 20:00 binne die huis gekry. Sepato sê die oorledene se identiteit is onbekend.
Die polisie-ondersoek sal bepaal of hy een van Lotterie sr. se moordenaars was.
’n Moordsaak word ná die man se dood ondersoek.
- Beeld

Regstelaksie kry bloedneus

Aug 19 2009 01:07:01:640AM

Die manier waarop regstellende aksie in die staatsdiens toegepas word, het in die arbeidshof ’n bloedneus gekry. In ’n skikking voor die hof is vier polisiebeamptes, gelyk gegee op hul beswaar.

Jan de Lange

Die manier waarop regstellende aksie in die staatsdiens toegepas word, het in die arbeidshof ’n bloedneus gekry.

In ’n skikking voor die hof is vier polisiebeamptes, wat vyf jaar gelede bevordering ontsê is, met terugwerkende krag gelyk gegee op al die punte van hul beswaar.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die skikking inderhaas en onverwags aangebied en sodoende gekeer dat regspraak ontwikkel oor kritieke aspekte van regstellende aksie. Die geding van die vier beamptes was die belangrikste toetssaak nóg oor regstellende aksie in die staatsdiens.

Die saak, wat deur vier forensiese wetenskaplikes aanhangig gemaak is, is eergister geskik deur alle eise toe te staan waarom hulle reeds in November 2004 gevra het: onmiddellike bevordering wat destyds geweier is weens hul velkleur, asook volle terugwerkende vergoeding asof hulle destyds reeds bevorder is.

In dié saak het die SAPD besluit om kernposte vakant te laat eerder as om wit kandidate aan te stel.

Die wit aansoekers wat geweier is, was ten volle vir dié hoogs kundige poste gekwalifiseer – met formele opleiding en jare lange ervaring.

Dié gebruik om poste eerder vakant te los wanneer gekleurde kandidate nie daarvoor gevind kan word nie, is algemene praktyk – nie net in die SAPD nie, maar regdeur die staatsdiens, het twee onafhanklike staatsdiensvakbonde gister gesê.

Solidariteit het die saak namens die vier forensiese wetenskaplikes, inspp. Lionel de Jager, Corlett van Ham, Hannes Geustyn en H. Ueckermann, gevoer. ’n Vertroulikheidsklousule in die skikking het die vakbond en die vier beamptes die mond gesnoer.

“Ons kan niks meer daaroor sê as dat ons tevrede is nie,” het mnr. Dirk Hermann, adjunkhoof van Solidariteit, gister gesê.

’n Skriftelike regsmening wat vir die saak aangevra is van adv. John Grogan SC, een van die top-arbeidsregspraktisyns in die land, lui dat regstellende aksie “iets moet bereik, verkieslik dat dit voorheen benadeeldes moet beskerm of help”.

“Hoe kan aangevoer word dat dit enige voorheen benadeelde kandidaat help of beskerm deur ’n pos vakant te laat bly?” het Grogan in sy pleitstuk gevra.

Die SAPD het die dienste van die staatsprokureur beëindig en prokureurs van Bowman Gilfillan, een van die land se grootste regsfirmas, vir die saak gehuur.

’n Skikking is onlangs aangegaan en is eergister ’n bevel van die hof gemaak. Dit is nou ’n openbare dokument.

De Jager en Van Ham is albei chemiese ontleders in die SAPD se forensiese laboratorium in Pretoria met nagraadse kwalifikasies in chemie en onderskeidelik 12 en sewe jaar ondervinding.

Hulle is in September verlede jaar in elk geval van inspekteurs tot kapteins bevorder, maar kry nou terugwerkende vergoeding asof hulle reeds in Desember 2004 kapteins was toe hul bevordering weens hul velkleur geweier is.

Geustyn, ’n forensiese ondersoeker, word onmiddellik tot ’n kaptein bevorder en kry ook volle terugwerkende vergoeding.

Ueckermann, ’n mineraloog met ’n M.Sc.-graad in chemie en 12 jaar ondervinding in fisiese en chemiese ontledings, het weens perke op sy loopbaan geëmigreer.

Mnr. Neal Truter, adjunkpresident van die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu), het gister gesê dié vakbond is op die oomblik in verskeie dispute gewikkel waarin bevordering aan wit polisie-lede geweier word ondanks die feit dat geen gekleurde kandidate gevind kan word nie.

http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2548870,00.html

7 ‘rowers’ vry oor swak polisie

Aug 19 2009 01:07:10:780AM

Nicolize van der Walt

Sewe mans wat daarvan aangekla is dat hulle die Tusk Rio Casino in die stad in 2005 beroof het, het met breë glimlagte as vry mans uit die streekhof hier gestap.

Nicolize van der Walt

Klerksdorp. – Sewe mans wat daarvan aangekla is dat hulle die Tusk Rio Casino in die stad in 2005 beroof het, het gister met breë glimlagte as vry mans uit die streekhof hier gestap.

Streeklanddros Charlotte Sene- kal het die polisie die skuld gegee weens swak ondersoekwerk en hulle goed die kop gewas.

“Dié swak werk het hierdie hof geen keuse gelaat as om die beskuldigdes vry te spreek nie,” het Senekal gesê.

Die sewe mans is daarvan beskuldig dat hulle die casino op 22 Desember 2005 beroof het, onwettig in die besit van vuurwapens en ammunisie was en tydens die rooftog op twee mans geskiet het.

Senekal het in haar uitspraak veral ’n paar taai klappe uitgedeel aan die ondersoekbeampte, sers. Maggie Laura Lebethe van Phokeng se afdeling teen georganiseerde misdaad.

“Die dossier is eers Maandag aan die staatsaanklaer oorhandig om te kon begin voorberei.

“Van die getuies was nie beskikbaar om te getuig nie en ander is nie gedagvaar om te getuig nie. Die staatsaanklaer het in die hofgange rondgehardloop om die saak aan die gang te probeer kry. Die ondersoekbeampte het soos gewoonlik in haar afwesigheid geskitter. Sy het nie met die staatsaanklaer gekommunikeer nie en ook nie navrae in die dossier beantwoord nie.

“In byna vier jaar kon die saak nie op verhoor gaan nie. Dís die soort optrede wat die regstelsel in ’n swak lig plaas en aangemeld behoort te word,” het Senekal gesê.

Sy het ook die polisielede wat in die saak getuig het, gelooi omdat hulle “ontoelaatbare en swak getuienis gelewer het”. Senekal het gesê polisielede het blatant onder eed vir die hof gelieg.

In haar uitspraak het sy ook gemeld daar is heelwat getuienis wat in die hof gebruik kon word, maar nooit beskikbaar was nie.

“Daar is ’n video van die rooftog. Die polisie kon duidelik sien waar die verdagtes in die casino beweeg het en daar gaan vingerafdrukke neem het – dis nie gedoen nie. ’n Baadjie van een van die rowers en ’n blikkie koeldrank is ook nooit vir forensiese ontleding gestuur nie.

“ ’n Uitkenningsparade is nooit gehou waar slagoffers die verdagtes sou kon identifiseer nie. Die ondersoek en hantering van die saak was uiters swak,” het Senekal gesê.

http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2548863,00.html

Twee gewond, maar transitorowers buit niks

Aug 19 2009 01:07:17:830AM

’n Veiligheidswag en ’n tronkbeampte is gister gewond toe minstens tien transitorowers in minstens drie voertuie ’n geldwa op die Moloto-pad, noord van Pretoria, in ’n hinderlaag gelei het.

Hilda Fourie

’n Veiligheidswag en ’n tronkbeampte is gister gewond toe minstens tien transitorowers in minstens drie voertuie ’n geldwa op die Moloto-pad, noord van Pretoria, in ’n hinderlaag gelei het.

Die rowers het met leë hande gevlug, het me. Wendy Hardy, woordvoerder van Group 4 Securicor (G4S), gesê.

Mnr. Johannes Jaftha, polisiewoordvoerder, het gesê die G4S-geldwa het gister omstreeks 09:00 geld van Moloto na Pretoria vervoer.

By ’n duik in die pad, sowat 10 km buite Moloto, het drie voertuie die pad vir verkeer versper.

Daar was volgens ooggetuies nóg verdagte voertuie waaruit die omgewing dopgehou is.

Van die rowers het langs die geldwa ingetrek en met swaarkaliber-vuurwapens op die bestuurder losgebrand.

Hy is volgens Jaftha in die been getref.

Die rowers het toe ’n ander veiligheidswag, wat agter in die geldwa gesit het, gedwing om die deur oop te maak.

Toe het hulle die wag met vuiste geslaan en in die veld gegooi.

Die rowers het die kluis in die geldwa met springstof opgeblaas, het Jaftha gesê.

Kort daarna het hulle losgebrand op twee tronkbeamptes van die Zonderwater-gevangenis in Cullinan wat op die toneel aangekom en ’n U-draai probeer maak het.

Een van die beamptes is in die hand en in die been getref.

Die polisie was binne minute op die toneel.

Hulle het die gewonde wag gestabiliseer voordat hy na ’n hospitaal geneem is.

Drie voertuie wat die rowers gebruik het, is minder as ’n uur later verlate vanuit die polisiehelikopter op die De Tweede Spruit-pad, sowat 8 km van die toneel, opgemerk.

’n Silwer Mercedes-Benz E280 se enjin het nog geluier.

Daaragter het ’n BMW 528i gestaan en aan die ander kant van die pad ’n Audi A4.

Die voertuie is almal vermoedelik gesteel.

Die rowers het óf die bosse ingehardloop óf hulle is in ’n wegkommotor weg, het Jaftha gesê.

’n Groot deel van die Moloto-pad was gister vir verkeer gesluit terwyl die polisie die toneel ondersoek het.

Die gewonde beampte is ná behandeling ontslaan.

http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2548856,00.html

Enkelma in kop geskiet post title

Aug 18 2009 12:21:18:873AM

Die Johannesburgse enkelma van ’n sewejarige seuntjie is tuis van agter in die kop geskiet terwyl sy vermoedelik van rowers probeer weghardloop het.

Magdel Fourie

Die Johannesburgse enkelma van ’n sewejarige seuntjie is tuis van agter in die kop geskiet terwyl sy vermoedelik van rowers probeer weghardloop het.

Me. Tracy-Leigh Frankish (33) is eergisteroggend omstreeks 02:00 dood op die vloer in haar slaapkamer in ’n gehuurde tuinwoonstel op die Chartwell-kleinhoewes naby Fourways gevind, het mnr. Jacques Fourie, haar vriend van twee jaar, emosioneel aan Beeld vertel.

Haar seuntjie, Taidg, het dié aand by sy ouma en oupa – mnr. Fred en mev. Helen Britz – in Bryanston oornag.

“Hy (Taidg) verstaan net glad nie dat sy ma dood is nie,” het Fourie gesê.

Frankish het Taidg Saterdagmiddag by haar ouers agtergelaat nadat hulle by sy nefie, Mika (3), se verjaardagpartytjie in Craighall Park was.

“Taidg het dikwels by ons agtergebly. Hy het baie keer sommer net vir sy ma gesê hy wil nou na sy ouma en oupa toe kom,” het mnr. Britz huilend gesê.

Fourie het vertel Frankish het grieperig gevoel en die partytjie laatmiddag alleen verlaat.

“Ek het toe met haar oor die telefoon gepraat terwyl sy op pad was huis toe.”

Hy het nie geweet dit sou hul laaste gesprek ooit wees nie. Om 22:15 het hy ’n laaste SMS aan haar gestuur, maar niks terugontvang nie.

Veiligheidswagte het op Frankish afgekom nadat die woonstel se alarm afgegaan het.

Hulle het Fourie gekontak en hy het haar daarna by die kamerdeur met ’n skietwond in die agterkop gekry, het hy gesê.

“Weens die manier wat sy gelê het, vermoed ons sy het vir die rowers weggehardloop en toe het hulle haar geskiet.”

Nadat hy die slegte tyding ontvang het, het hy mnr. Britz dadelik gekontak. By Frankish se woning gekom, het die twee mans mekaar ontsteld omhels.

“Ek is absoluut stukkend. Geen woorde kan beskryf wat ek nou voel nie,” het Fourie gesê.

Dir. Jenny Naidoo, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie soek na twee of drie rowers en klagte van moord en roof word ondersoek.

Klein huishoudelike items word uit die woonstel vermis. Volgens Fourie is dit onder meer ’n televisie, ’n hoëtroustelsel en van Frankish se klere.

Intussen is Taidg in die sorg van die Britz-egpaar totdat mnr. Martin Frankish, sy pa, wat reeds van Engeland op pad is, hier aankom.

http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2548524,00.html

Man na Zuma oor VS-polisie

Aug 18 2009 02:29:28:560AM

Verslagspan

’n Bloemfonteinse man is na pres. Jacob Zuma se kantoor met ’n verslag wat bewerings bevat oor wanbestuur en korrupsie in die Vrystaatse polisie.

’n Bloemfonteinse man is na pres. Jacob Zuma se kantoor met ’n verslag wat bewerings bevat oor wanbestuur en korrupsie in die Vrystaatse polisie.

“Die president se openingsrede waarin hy lojale landsburgers gevra het om korrupsie aan te meld, het my laat besluit om nie langer stil te bly oor wat ek weet nie,” sê mnr. George Mashale, ’n voormalige polisie-reservis.

Mashale is self weens korrupsie in hegtenis geneem, waarna die verhoor in die hof teruggetrek is. Hy het ’n siviele eis teen die staat ingestel.

Mashale het ’n verslag saamgestel en dit Vrydag na die kantoor van die president gebring. Volksblad is in besit van die dokument waarvan die kantoor van die president ontvangs erken het.

Die verslag handel grootliks oor beweringe van korrupsie, wanbestuur, misbruik van mag en bedrog.

Van die bewerings behels die volgende:

- Komm. Amon Mashigo, provinsiale hoof van die polisie in die Vrystaat, het na bewering ’n ritmagtiging vir die gebruik van ’n staatsvoertuig vir sy sekretaresse gegee om met haar gesin Pretoria toe te ry vir ’n private aangeleentheid. ) ’n Vrou met ’n misdaadrekord is glo in opdrag van Mashigo aangestel. ) Misdaadstatistieke is na bewering aangepas met ’n besoek van die minister van polisie aan die begin van die jaar om die minister onder ’n wanindruk oor misdaad in die provinsie te bring. ) Mashigo het ook na bewering in 2008 ’n reis vir drie offisiere na sy skoonpa se begrafnis goedgekeur. Die offisiere het verder na bewering met hul terugkeer reis-en-verblyf-toelae geëis.

- Mashigo het na bewering vanjaar ook na Pretoria gevlieg en twee polisiebeamptes na Johannesburg gestuur om sy motor vir hom daarheen te bring. Die polisiebeamptes het met Mashigo se motor en ’n amptelike motor na Johannesburg gereis om dit vir Mashigo te bring en weer met die amptelike motor teruggekom. ’n Eis vir die reis en verblyf is ingedien.

Mashale het die president gevra om in te gryp en die beweringe te laat ondersoek.

“Dit is tyd dat die dinge wat verkeerd is in die Vrystaat, aan die lig gebring word.”

Sr.supt. Sam Makhele, provinsiale kommunikasiehoof van die polisie, het gister gesê indien die verslag by die president se kantoor ingedien is, kan die polisie in die provinsie nie daarop reageer nie.

“As die klaer reeds so ver as die president se kantoor gevorder het, beteken dit die saak is nou in die hande van die president. Indien enige ondersoek dus volg, sal dit deur sy (die president se) kantoor gedoen word.”

http://jv.news24.com/Die_Volksblad/Nuus/0,,5-83_2548570,00.html

Slukkie koeldrank – en jy’s jou geld kwyt

Aug 16 2009 10:04:22:580PM

’n Vermeende swendelaar is die naweek in Limpopo in hegtenis geneem omdat hy etlike mense na bewering met derduisende rande ingeloop het.

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – ’n Vermeende swendelaar is die naweek in Limpopo in hegtenis geneem omdat hy etlike mense na bewering met derduisende rande ingeloop het nadat hy glo vir hulle koeldrank met ’n dwelmmiddel ingegee het.

Die 64-jarige man het hom glo as ’n polisieman voorgedoen. Hy het glo vir mense wat geld by banke onttrek het, gesê die geld wat onttrek is, is moontlik in rooftogte gebruik.

Die man het glo ook koeldrank, met ’n onbekende dwelmmiddel in, aan sy slagoffers gegee. Die mense het hul bewussyn verloor waarna hy en ’n makker met die geld laat spaander het.

Supt. Mohale Ramatseba, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die man is eergister in Marble Hall in hegtenis geneem toe hy nog ’n man glo met dié slenter wou vang.

Teen druktyd is die makker nog nie in hegtenis geneem nie.

Die mans het hulle glo as bankkliënte voorgedoen wat ’n deposito wil maak, maar eintlik dopgehou watter mense onttrek groot bedrae geld.

Ramatseba het gesê die swendelaars het hul slagoffers buite die banke voorgekeer en hulself as polisielede voorgedoen.

Die mans het glo gesê die geld wat die persoon onttrek het, is moontlik geld wat in ’n rooftog gebuit is.

“Die persoon is dan gevra om die geld aan die mans te oorhandig sodat hulle ‘seker kan maak of dit geld is wat geroof is of nie’,” het Ramatseba vertel.

Die man in aanhouding is van Hammanskraal, Pretoria, en daar is ’n hangende roofsaak teen hom. Hy verskyn na verwagting vandag op aanklagte van die besit van dwelms in die Marble Hall-landdroshof.

http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2548284,00.html

Polisiestasie skep mooi gees

Aug 15 2009 01:22:59:950AM

Stap jy die “nuwe” polisiestasie van Heidedal binne, kan jy nie glo dit is die stasie wat nog aan die begin van vanjaar soos ’n deurmekaar seunskool was nie.

Stap jy die “nuwe” polisiestasie van Heidedal binne, kan jy nie glo dit is die stasie wat nog aan die begin van vanjaar soos ’n deurmekaar seunskool was nie.

Die stasie spog ook met die eerste vroulike stasiebevelvoerder, oorspronklik van Upington.

Ons heet haar welkom in Heidedal.

Baie opvallend is die positiewe gesindheid van die gemeenskap in Heidedal deesdae.

Inwoners stap sommer vir ’n geselsie by die “sup” se kantoor in.

Hulle sê hulle het van die “oopdeur”-beleid wat sy toepas, gehoor.

En aan oom Smitty:

Dankie vir ook jou goeie werk by die polisiestasie.

Mense kan gerus by die Heidedal-polisiestasie ’n draai loop maak en sien hoe mooi dit deesdae daar lyk.

Jhanjé Hartzenberg

Murisonstraat 1c, Heidedal, Bloemfontein

http://jv.news24.com/Die_Volksblad/Briewe/0,,5-89_2548012,00.html

Moenie winkel-rowers oorhand gee, sê kenner

Aug 16 2009 10:04:26:410PM

Mense moenie toelaat dat rowers wat winkelsentrums teiken van hulle sielkundige slagoffers maak nie.

Retha Grobbelaar

Mense moenie toelaat dat rowers wat winkelsentrums teiken van hulle sielkundige slagoffers maak nie.

Terselfdertyd meen dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) se program vir misdaad, justisie en politiek, moet inkopiegangers nie helde probeer wees nie.

“Moenie onnodig dapper wees nie.

“As jy met jou pistool beland in ’n situasie waar tien of 15 rowers masjiengewere het, moenie in ’n bakleiery betrokke raak nie. Gee eerder pad, want jy gaan net tweede kom,” het Burger gister gesê.

Minstens sewe winkelsentrums in Gauteng is in die laaste twee weke beroof.

Die polisie het eergister gesê 17 verdagtes is reeds gearresteer in verband met dié rooftogte.

Twee verdagtes is Vrydagoggend in Soweto in hegtenis geneem in verband met die gewapende rooftog in die Trade Route Mall in Lenasia, in die suide van Johannesburg, verlede week. ’n Veiligheidswag is in dié voorval doodgeskiet. Daar is ook beslag gelê op ’n vuurwapen tydens die arrestasie.

Dié twee verskyn na verwagting vandag in die Lenasia-landdroshof .

Komm. Perumal Naidoo, Gautengse polisiehoof, het eergister op ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê die polisie sal nie rus totdat al die rowers vasgetrek is nie.

Hy het ook aan misdadigers ’n boodskap gegee: “Ons gaan nie terugsit en kyk hoe julle gemeenskappe terroriseer nie.

“Die polisie sal 24 uur en sewe dae ’n week werk,” het hy bygevoeg.

Volgens Naidoo moet veiligheid by winkelsentrums verbeter word.

“Ons werk nóú saam met winkelsentrums. Ek gaan nie sê daar gaan geen polisielede (by winkelsentrums) wees nie.

“Daar kan een, tien of niemand wees nie. Beamptes sal moontlik rondbeweeg. Julle sal ons dalk nie sien nie,” het Naidoo gesê.

Hy het bygevoeg daar kan baie redes vir die toenemende getal rooftogte by winkelsentrums wees.

“Niemand wil arm wees nie. Almal wil ryk wees. Dis hoe ek daarna kyk.”

Supt. Eugene Opperman, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie en misdadigers is betrokke in ’n skaakspel.

“Ons loop op hul hakskene. Dis soos met die kitsbank-ontploffings. Jy kom weg tot op ’n punt, maar ons jag jou,” het hy verseker.

Fnuik-wenke:

Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), meen die volgende kan rooftogte verminder:

· Sigbare polisiëring by winkelsentrums;

· Direkte kontak tussen veiligheidswagte en die polisie;

· Doeltreffende ondersoekwerk en vervolging;

· Swaarder strawwe; en

· Nouer samewerking tussen die polisie en die sakesektor.

http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2548282,00.html