Herman Scholtz
Pretoria - Die uitsluitlik wit staatsgetuies teen mnr. Percyval Matji, die taxibestuurder wat na bewering die 16-jarige Bernadine Kruger se dood veroorsaak het, wil hom “sonder ooglopende rede” gestraf sien.
So het adv. Rendani Mufumadi, namens Matji, gister in die Pretoriase streekhof betoog.
Volgens hom het dié staatsgetuies “verskuilde motiewe” gehad om teen sy kliënt te getuig.
Matji (31) staan tereg op aanklag van moord nadat die taxi wat hy bestuur het bo-oor Bernadine gery het.
Sy is aan kopbeserings dood.
Drie motoriste wat die ongeluk op 23 Februarie in Atterburyweg, Pretoria, aanskou het, asook ’n passasier van die taxi en ’n deskundige getuie, is almal wit.
“Dat net wit mense kom getuig het, is ’n aanduiding dat daar ’n rasse-kwessie ter sprake is,” het Mufumadi aangevoer.
Hy het gesê die getuies het “oordryf” om “die hof te laat glo (Matji) het die bedoeling gehad om (Bernadine) dood te maak”.
“Dis ’n duidelike aanduiding dat hulle die beskuldigde sonder ooglopende redes wil straf.”
Een getuie het byvoorbeeld getuig hoe Bernadine “in die lug op gevlieg” het.
Mnr. Sameul Martins, die taxipassasier wat getuig het hoe Matji teen sowat 100?km/h gery het, sou heel waarskynlik nie die spoedmeter kon sien nie, het Mufumadi gesê. Voorts het Bernadine ’n noodsituasie veroorsaak en Matji kon nie die ongeluk verhinder het nie.
Sy weergawe is dat hy die een oomblik nog in sy tru-spieëltjie gekyk het en die 125?cc-bromponie die volgende oomblik reg voor hom was.
Volgens Mufumadi het Bernadine nie ’n rybewys gehad nie en moet die hof daarvan aflei dat sy “nog nie die nodige opleiding gehad het” om behoorlik te bestuur nie.
Die staat het Mufumadi se aantygings van ’n “wit hinderlaag” sterk ontken.
Adv. Sanet van Rensburg het gesê die staat se getuies is diegene wat vorendag gekom het ná die ongeluk. “Een werkgewer het my ook gekontak om te sê haar swart werker was ’n passasier in die taxi, maar is te bang om te getuig.”
Van Rensburg het gesê daar is geen bewyse dat Bernadine nalatig of onveilig bestuur het nie.
Sy het gesê Matji vra die hof om sy weergawe as billik moontlik waar te aanvaar, maar dat dié weergawe heeltyd verander.
Volgens Van Rensburg is dit veelseggend dat Matji nie een van die 14 passasiers van die taxi geroep het om vir hom te getuig en sy weergawe te staaf nie.
Dít nadat hy erken het dat hy van hulle intussen weer gesien het. “Die beskuldigde het basies die oorledene gejaag.”
Hy het haar “geterroriseer” met sy getoeter totdat sy na die regterbaan oorgegaan het en toe wéér sy “boelie-tegnieke” gebruik om haar te verjaag.
“Hy wou teen haar bots. Hy het nie eens probeer om uit te swaai ná die ongeluk nie, maar het reguit oor haar gery waar sy ’n paar meter weg gelê het.
“Daar kan geen ander afleiding wees as dat die beskuldigde direkte opset gehad het om die oorledene dood te maak nie.”
Streeklanddros Edmund Patterson sal na verwagting Vrydag uitspraak lewer.
- Beeld