Maandelikse Argief vir December, 2009

Vir niks op straat vermoor

 

2009-12-09 23:10

Mev. Tanya de Bruin dreig om haar eie lewe te neem nadat haar man voor haar doodgeskiet is.Foto: alet pretorius

Virginia Keppler

Mnr. Petrus de Bruin (45) is in Pretoria vir niks op straat doodgeskiet.

Al wat hy by hom gehad het, was ’n kospakkie wat hy en sy vrou by sy bejaarde ma gaan haal het omdat hulle nie iets gehad het om die aand te eet nie.

Toe die gewapende rower hom en sy vrou, Tanya (40), eergisteraand in Wespark voorkeer, het hy net ’n paar sigarette, ’n stukkie vleis, twee tamaties, ’n ui en twee aartappels by hom gehad.

“Petrus het dadelik gesê: ‘Wag bra, hierso’, en het afgebuk om die kospakkie en sy sigarette op die grond neer te sit, toe die man hom skiet,” het mev. De Bruin gister huilend vertel.

“Die rower het my eers op die grond vasgetrap en Petrus bo-oor my in die kop geskiet.”

Die rower het sonder die kospakkie gevlug.

Mnr. De Bruin is kort daarna in die Steve Biko-hospitaal dood.

Die De Bruins van Hermanstad was op pad na hul woning toe hulle naby die hoek van Kerkstraat en Transoranjeweg oorval is. Hulle het die kos by mev. Kotie de Bruin (80) gaan vra omdat hulle niks gehad het om te eet nie.

Wagte van die ADT-veiligheidsmaatskappy was eerste op die toneel, gevolg deur die polisie en toe die ambulans.

Mev. Angelique Els (28) het gesê dokters het byna ’n uur lank gespook om haar oom se lewe te red.

“Die verpleegsters het later gehuil,” het sy gesê.

Mev. De Bruin het gesê haar man se moordenaar wou nie die kos hê nie.

“Hy wou Petrus doodskiet.”

Sy het gesê dit is nie die eerste keer dat hulle in dié omgewing deur rowers aangeval is nie.

“’n Paar maande gelede is ons ook byna beroof. Een rower het bo-op Petrus se rug gespring. Gelukkig het ’n veiligheidswag dit gesien en ons kom help.

“Die rowers het toe weggehardloop.”

Mev. De Bruin het gesê sy was heeltemal afhanklik van haar man en sal nie sonder hom kan voortgaan nie. Sy het huilend vertel dat sy oorweeg om selfmoord te pleeg.

Mev. Alida Oberholster (50), mnr. De Bruyn se suster, het gesê sy dood is vir hul hele familie ’n groot skok.

“My ma is 80 jaar oud en is erg geskok. Petrus was haar jongste seun,” het Oberholster gesê.

Die egpaar was afhanklik van mnr. De Bruin, ’n epilepsie-lyer, se R1 000 per maand ongeskiktheidstoelae. Hulle het in ’n enkelkamer by die Pams’ House-sorgsentrum gewoon.

Die egpaar se seun, Petrus jr. (18), is ook getraumatiseerd. Hy is tans by ’n vriendin en haar familie in Valhalla in Centurion.

Oberholster het gesê Petrus was ’n baie goeie mens wat altyd met die laaste bietjie wat hy gehad het ander mense gehelp het.

“Al was hy hóé arm, sou hy jou sy laaste R2 gegee het om jou te help,” het sy gesê.

“Nou moet ons ’n begrafnis reël wat ons meer as R4 000 gaan kos en daar is nie geld nie,” het sy hartseer gesê.

Kapt. Dumisani Ndlazi, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die voorval.

http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/62d2b1efb0934d7496d7107187e7b3c3/10-12-2009-10-41/Skietery_by_padblokkade_eis_een

Vrou (64) in haar huis aangeval, vermoor

 

2009-12-10 09:46

’n Speurder loop na die huis waarin die vrou doodgeslaan is. Foto: André Damons

André Damons

’n Duitssprekende vrou is in haar huis in Rooseveltpark, Johannesburg, vermoor.
Haar vriend, ’n bekende motorhandelaar, is in Januarie langs die N14-hoofweg vermoor.
Die 64-jarige vrou is vermoedelik tussen eergister 11:00 en gister 08:00 doodgeslaan deur iemand wat sy geken het.
Sy het alleen in die huis in Anton van Wouwweg gebly en glo haar pensioengeld daar versteek.
Haar naam is nog nie bekend gemaak nie omdat haar familie nog van haar dood in kennis gestel moet word.
In Januarie is mnr. Dieter Fürrutter (65), ’n vriend van die vrou en eienaar van Dieter Car Sales, vermoor toe hy sy vriend mnr. Wolfram Ebel, wie se motor op die N14 naby die Diepsloot-plakkerskamp onklaar geraak het, gaan help het.
Gister het die vrou se bure onraad vermoed toe hulle haar nie soos gewoonlik in die tuin sien werk het nie. Hulle het die polisie gebel, het insp. Bokkie Keulder, polisiewoordvoerder, gesê.
Dit wil voorkom of haar aanvallers haar in die badkamer oorval en oor die kop geslaan het.
“Toe die polisie by die huis ingaan, het hulle die vrou dood op die badkamervloer aangetref. Ons weet net sy is oor die kop geslaan, maar weet nog nie waarmee nie,” het Keulder gesê.
’n Selfoon, juweliersware, beursie en kontant word uit die huis vermis. Keulder het gesê die aanvallers het die huis omgekrap op soek na goedere om te steel.
Die polisie vermoed die vrou het haar moordenaars geken. Daar was geen teken van ’n inbraak nie.
’n Provinsiale ondersoekspan van die polisie ondersoek die moord.

http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/62d2b1efb0934d7496d7107187e7b3c3/10-12-2009-10-41/Skietery_by_padblokkade_eis_een

Skietery by padblokkade eis een

 

2009-12-10 10:41

Durban - Een verdagte is dood en nog een is in hegtenis geneem ná ‘n skietery in Pinetown, het KwaZulu-Natal polisie gesê.
“Twee polisiemanne het die gebied gepatrolleer en motoriste voorgekeer om voertuie te deursoek. ‘n Voertuig wat die polisiemanne genader het, het nie gestop nie en toe op die polisie begin skiet,” het supt. Vincent Mdunge gesê.
Hy het gesê die polisie het een van die mans doodgeskiet.
Die polisie vermoed dat die wapens wat die mans in hul besit gehad het, nie gelisensieer was nie, het Mdunge gesê.
Die tweede verdagte sal Vrydag in die die landdroshof in Pinetown verskyn.

http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/62d2b1efb0934d7496d7107187e7b3c3/10-12-2009-10-41/Skietery_by_padblokkade_eis_een
- Sapa

Meisie verkrag vir R5 om brood te koop

 

2009-12-08 09:48

Buks Viljoen
Mpumalanga - ’n 13-jarige meisie van Piet Retief het brood vir haar boetie en sussie gekoop met die R5 wat aan haar gegee is nadat minstens vyf mans haar glo om die beurt verkrag het.
Die voorval het voorverlede naweek by die meisie se huis aan die buitewyke van die dorp gebeur terwyl haar ouers tuis was.
“Bly stil en laat hulle eers klaarmaak,” het die ma van die meisie, wat ook verstandelik gestremd is, glo aan haar gesê toe sy om hulp geroep het.
Die verkragtings het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, maar almal het daaroor geswyg, blykbaar omdat hulle bang was vir die bende wat die kind verkrag het, het ’n inwoner van die Thandukukhanya-woonbuurt wat anoniem wou bly, gister gesê.
Die verkragtings het blykbaar al sedert verlede jaar plaasgevind, maar het eers verlede Dinsdag aan die lig gekom toe die meisie deur ’n besorgde buurvrou na ’n kliniek geneem is. Die kind se ma is kort daarna gearresteer. Sy is intussen op borgtog vrygelaat.
Kinderwelsynsbeamptes het intussen die drie kinders uit die sorg van die ouers verwyder.
Vier van die vermeende verkragters, onderskeidelik 21, 25, 34 en 40 jaar oud, is Donderdag en Vrydag in hegtenis geneem.
Hulle het gister vlugtig in die hof verskyn en bly in aanhouding, het kapt. Magonseni Nkosi, polisiewoordvoerder, gesê.
’n Bron na aan die ondersoek het bevestig dat geld hande verwissel het en dat die meisie in die laaste geval glo brood met die geld gekoop het vir haar boetie en sussie wat baie jonger is as sy.
’n Vyfde verdagte is nog soek.

http://www.volksblad.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/2114/924334a93a4740529e7c4e503c06290e/08-12-2009-09-48/Meisie_verkrag_vir_R5_om_brood_te_koop

Vrou deur ‘meneer’ verkrag

 

2009-12-09 00:29

Virginia Keppler

’n Vrou (41) van ’n kleinhoewe noordoos van Pretoria moes haar verkragter “meneer” noem terwyl hy haar verkrag het.

Vandag, ’n week later, wag sy en haar gesin steeds op die polisie om verklarings af te neem.

Die Kameeldrift-polisiekantoor “weier” glo dit te doen omdat hulle glo “te besig” is.

Die vrou, haar man, hul 15-jarige dogter en negejarige seun skuil in ’n gastehuis omdat hulle te bang is om na hul kleinhoewe terug te keer.

Die vrou het verlede Woensdag net ná 10:00 by haar huis uitgegaan toe ’n man met ’n mes haar oorval en in die huis teruggedwing het. Sy het die man gevra om hulle nie seer te maak nie en gesê hy kan alles vat.

Toe die kinders op hul ma en die vreemdeling afkom, het hulle begin skreeu. Die man het die kinders gedreig.

“Hy het daarop aangedring dat ons hom ‘meneer’ noem en het gedreig om die kinders 50 keer met die mes te steek.”

Hy het hulle deur die huis gevat en aanhoudend vir ’n vuurwapen gevra.

“Ek het probeer verduidelik dat ons nie ’n vuurwapen het nie. Hy het volgehou hy weet ons het ’n vuurwapen.

“Hy het die kinders se hande en voete vasgebind en hulle in die hoofslaapkamer gelos. Toe neem hy my na die strykkamer waar hy die strykyster aangeskakel het en naby my gesig gehou het.

“Hy het gedreig om my te brand as ek nie sê waar ons vuurwapen is nie. Ek het op my knieë gegaan en hom gesmeek en gesê: ‘Asseblief, ons het nie ’n vuurwapen nie.’?”

Hy het die vrou daarna na haar dogter se kamer geneem en gevra wat sy sal doen om haar dogter se lewe te spaar.

“Ek het gesê enigiets. Hy het gesê ek moet lê, ek moenie na hom kyk nie. Hy het gesê as ek raas, sny hy my keel af. Ek het gedoen wat hy gesê het en toe hy klaar is, het hy my beveel om my broek op te trek.

“Ek kon nie, want my hande was vasgebind. Hy het kwaad geword toe hy my broek moes optrek en gesê ek is ’n ‘nuttelose wit vrou’,” het sy snikkend vertel.

Die man wou daarna met haar in haar motor wegry, maar sy het die motorhuisdeur agter hom toegedruk en gesluit. Hy het met drie selfone, ’n skootrekenaar en juwele gevlug.

Die vrou het die noodknoppie gedruk, maar die alarm het nie afgegaan nie.

Sy het met haar kinders in haar motor na die bure gevlug, van waar sy die polisie gebel het.

Haar man, wat nie tuis was nie, het gesê die polisie het binne oomblikke op die oproep ge reageer, maar het nie ’n polisievrou gestuur om met sy vrou te praat nie. “Daar was seker 30 polisiemanne in my erf wat buite rondgestaan en grappe gemaak het. My vrou het alleen in die huis gesit.”

Volgens die vrou se man het die polisie nie vingerafdrukke of foto’s van sy kinders en vrou se beserings geneem nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat die polisie glad nie na die verdagte soek nie,” het hy gesê.

- Beeld

Verkragters, moordenaars verdien regte nie – Bheki

2009-12-08 01:03

Linda de Beer

“Moordenaars en verkragters is nie mense nie, maar diere wat nie verdien om menseregte te hê nie.”

So het komm. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, misdadigers gister in Johannesburg uitgekryt by die bekendstelling van die polisie se veldtog vir die feestyd.

Hy staan nogtans daarby dat die polisie dodelike mag teen misdaad moet gebruik, hoewel hy nié sê “skiet om te dood” nie.

“Misdadigers is onmenslik en harteloos. So ’n persoon verdien nie om ’n mens genoem te word nie – eerder ’n dier.

“Watter mensereg kan jy hê as jy die lewe uit iemand vat, as jy ’n sesjarige kind verkrag?”

Hy herskryf nie die Grondwet nie, het hy gesê.

Menseregte behoort egter volgens hom uitsluitlik aan mense. “Jy kan daarom nie menseregte vir moordenaars en verkragters bepleit nie.”

Hy het daarop gewys dat minstens 18?000 Suid-Afrikaners verlede jaar aan onnatuurlike oorsake dood is.

Terwyl dié syfer nog so “onaanvaarbaar hoog” is, kan die polisie nie sê hulle het hul werk gedoen nie en moet dit (die syfer) dringend verlaag word.

Hy het daarop gewys dat die taakmag groei. Met 183?000 polisielede tans en 5?000 wat in die polisiekol­lege opgelei word, sal die totale mag einde vanjaar op 188?000 lede staan.

Altesame 81?000 van hulle sal vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi volgende jaar ontplooi word.

Hy was beslis dat die polisiemag se moraal nié laag is nie, maar dat hulle reg staan om misdadigers vas te keer.

“Enigeen wat dink Suid-Afrika is ’n hemel vir boewe, moet eerder tuis bly. Die polisie het toerusting gekry om sy werk te doen.

“Enigeen wat dus ’n boef met ’n vuurwapen sien, moet dodelike mag gebruik. Verstaan my mooi, die seisoen het gedraai. Ons is siek en sat vir misdadigers. Ons het ’n punt bereik waar dit moet eindig.”

Hy het hom ook uitgespreek teen die groot getal polisielede wat deur misdadigers doodgeskiet word.

Altesame 105 polisielede is verlede jaar aan diens dood, en 107 in 2007.

“Diegene wat hulle teen arrestasie verset, sal voortaan nie durf om die polisie te skiet nie.

“Die polisie sal dan niks anders nie as dodelike mag inspan.”

Cele het dit beklemtoon dat die polisie misdaad binne die mag ook sal beveg.

Altesame 1 300 polisielede word tans in die tronk aangehou.

“Ons sal seker maak dat elkeen wat misdaad pleeg, ’n plek in korrektiewe dienste kry,” het hy gesê.

http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/b1f1cc1a15914b46be1fa7e7f76e8aaf/08-12-2009-01-03/Verkragters,_moordenaars_verdien_regte_nie_%E2%80%93_Bheki_

- Beeld

‘In feestyd gaan boewe jul nie pla’

 

2009-12-08 00:19

Cele en Mbalula groet mnr. Richard Roberts en sy vrou, Sandy, by die Menlynpark-winkelsentrum.

Hilda Fourie

Ekstra polisielede sal dié feestyd seker maak dat mense in winkelsentrums hul inkopies kan doen sonder dat hulle deur booswigte lastig geval word.

Dié spesiaal opgeleide polisie­lede, wat herkenbare blou berets dra en die taktiese reaksiespan genoem word, sal tydens die feestyd in winkelsentrums oor die land heen ontplooi word.

So het komm. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, gister gesê toe hy en mnr. Fikile Mbalula, adjunkminister van polisie, omring deur polisielede die Menlynpark-winkelsentrum in die ooste van Pretoria besoek het.

Cele het dié winkelsentrum en die Northgate-winkelsentrum in Randburg en die East Rand Mall-winkelsentrum in Boksburg besoek as deel van die polisie se bekendstelling van hul veldtog vir die feestyd.

Volgens Cele gaan die polisie dié feestyd nie toelaat dat misdadigers mense tydens hul Kersinkopies steur nie.

Cele wil hê die inkopiegangers moet rustig en in veiligheid hul tyd in die winkelsentrums deurbring, terwyl misdadigers “moet weghardloop en wegkruip – dis as hulle ’n plek kan kry om weg te hardloop en weg te kruip”.

Hy het tydens sy besoek aan dié winkelsentrum verskeie mense wat besig was om te eet en inkopies te doen met die hand gegroet en gehoor hoe dit met hulle gaan.

Hy het ook verskeie polisielede ’n stewige handdruk gegee.

Hulle het by die NWJ-juwelierswinkel, waar daar die laaste paar weke twee rooftogte en een poging van ’n rooftog was, binnegegaan en die personeel belowe dat die polisie alles in hul mag doen om meer veiligheidsmaatreëls in plek te stel.

Daarby wil hy ook hê die polisie se reaksietye moet so vinnig wees “dat die misdadiger op die plek gearresteer kan word”.

Volgens Cele is dié juwelierswinkel veral ’n sagte teiken omdat hy naby een van die winkelsentrum se ingange geleë is.

“Ons hoop dat die tyd verby is waar ’n mens ’n teiken is,” het hy gesê.

Soos wat Cele en sy gevolg deur die winkelsentrum geloop het, het verskeie mense uitgeroep: “Kyk, dit is Bheki Cele.”

Een van dié is mev. Agnes Sepeng wat Cele net daar voorgekeer het en vir hom gesê het hy moet “al die tsotsi’s toesluit”.

“Ons is siek en sat vir misdaad.

“Ons kan nie meer dat hulle (misdadigers) daarmee wegkom nie,” het Sepeng gesê.

Cele het verder aan mee. Agnes Kitime en Anna Ntuli gesê dat winkelsentrums aan die mense behoort en nie aan misdadigers nie.

http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/6da3bec92a634c3cb3c804b23eff4d67/08-12-2009-12-19/%E2%80%98In_feestyd_gaan_boewe_jul_nie_pla%E2%80%99

- Beeld

Man met eie wapen ‘terregestel’

2009-12-07 09:11

Virginia Keppler
Johannesburg - ’n Man van ’n plaas in die Roossenekal-distrik in Mpumalanga is in ’n wraakaanval met sy eie vuurwapen “tereggestel”.
Die aanval op Gawie Hough (42) kom twee maande nadat ’n voormalige plaaswerker van Deon (41), sy broer, hom gedreig het met die woorde: “Ek gaan jou wys wat ek met ’n wit man kan maak.”

Lees verder ‘Man met eie wapen ‘terregestel’’

‘Spesiale magte’ vir 2010-spelers

2009-12-07 11:00

Johannesburg - Verskeie lande wat aan die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi gaan deelneem, sal private sekuriteitsfirmas in diens neem, het die Pretoria News berig.
Dié firmas, wat oorlogspesialiste uit Irak en Afganistan in hul diens het, sal gebruik word om die spelers en amptenare te beskerm.
Bronne in die private sekuriteitsbedryf, het gesê sokkerverenigings in Europa én Suid-Amerika het reeds firmas wat voormalige militêre personeel, waarvan sommige spesiale magte is, aangestel om spelers en hul families te beskerm.
Dié firmas sal 24 uur per dag gewapende lyfwagte, koeëlvaste voertuie, advies oor hoe om kapings te voorkom en taakspanne wat ontvoeringsituasies kan hanteer, beskikbaar stel.
Ontvoeringsverskering sal ook deur sommige firmas aangebied word, lui die berig.
Dié onthullings is gemaak te midde van vrese dat daar “gapings in die sekuriteit” wat deur organiseerders voorsien word, kan wees.
Verskeie sokkerverenigings van regoor die wêreld en senior figure in internasionale administratiewe kringe het hul kommer uitgespreek. Hul gevoelens is aangevuur deur beweerde glipse in sekuriteit by verlede jaar se Konfederasiebeker, wat as ‘n toets vir 2010 gesien is.

http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/6e25939c977c433d8c3731adde4c7b6d/07-12-2009-11-00/%E2%80%98Spesiale_magte%E2%80%99_vir_2010-spelers
-Sapa

Plaasmoorde eis vier

2009-12-07 01:01

Malani Venter

Stellenbosch

In ’n “swart naweek” vir die landboubedryf is ’n boer en drie werkers in twee afsonderlike voorvalle op Kaapse plase vermoor.

’n Vrugteboer van Ceres en drie plaaswerkers van Beaufort-Wes is onderskeidelik Vrydagnag en Saterdagmiddag doodgeskiet.

Me. Lena Nuwegeld (85) en mnre. Hendrik September (64) en Mannetjie John (38) is Saterdag op die plaas Nooitgedacht, sowat 25 km van Beaufort-Wes, met ’n jaggeweer doodgeskiet, het kapt. Bernadine Steyn, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

Dié plaas behoort aan mnr. Gert van der Merwe.

Ná wat gelyk het soos ’n rusie tussen twee van die plaaswerkers en ’n opsigter van dié plaas, het die opsigter glo al drie werkers met ’n jaggeweer doodgeskiet, het Steyn gesê.

Nuwegeld en September is albei in die kop geskiet, terwyl John in sy kop, bors en been geskiet is.

Al drie slagoffers is op die toneel dood. ’n Man (37), wat kort ná die voorval in hegtenis geneem is, sal na verwagting vandag in die landdroshof in Beaufort-Wes op drie aanklagte van moord verskyn.

In ’n tweede voorval is mnr. Pieter Malan Cillie (57), ’n appel- en peerboer van die plaas Lorraine buite Ceres, drie keer in sy huis geskiet.

Volgens supt. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het ’n onbekende aantal mans omstreeks 23:45 die kombuisdeur oopgeskop en die plaashuis binnegedring.

Cillie het glo wakker geword van die geraas en gaan ondersoek instel, waarna die mans hom oorval het, het Traut gesê. Cillie se twee kinders en twee vriende van die kinders was ook ten tyde van die voorval in die huis.

Hy is in die kop en maag gewond en is op die toneel dood.

Die twee vriende het hul ouers gebel, waarna die polisie na die toneel ontbied is. Die kinders is ongedeerd gelaat en dit blyk niks is uit die huis gesteel nie, het Traut bygevoeg.

Die verdagtes is steeds op vrye voete. ’n Saak van moord word ondersoek.

In ’n verklaring het mnr. Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou, sy skok en hartseer oor albei voorvalle uitgespreek. “Plase en landelike gebiede moet veilig wees vir boere en plaaswerkers. Die afgelope naweek het gewys dat dit nie die geval is nie,” het hy gesê.

Mnr. Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het dit as ’n “swart naweek” beskryf: “Die reg moet nou sy gang gaan. Die proses moet nie uitgerek word nie en dit moet vinnig afgehandel word sodat ons die stukke kan begin optel.”

Adv. Lennit Max, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, het gesê die verdagtes sal met die volle mag van die gereg te doen kry. Hy het sy skok oor die voorvalle uitgespreek en meegevoel met die naasbestaandes betuig.

http://www.dieburger.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1708/80a1885f713648628e6f563a967f6d35/07-12-2009-01-01/Plaasmoorde_eis_vier

- Die Burger