Maandelikse Argief vir January, 2010

Booswigte slaan weer toe op grensplaas

2010-01-11 01:38

Charles Smith

Net drie maande nadat hul baba te vroeg gebore is weens die spanning ná herhaaldelike strooptogte op hul grensplaas, is daar weer deur booswigte van Lesotho op ’n boere-egpaar by Ficksburg se plaashuis toegeslaan.

Mnr. Hennie Vermooten en sy vrou, Elzanie, was die naweek by haar skoonouers op Heidelberg, Gauteng, toe hul huishulp gister op die plaas Avondson oorval en die huis gestroop is.

Hul baba, Pieter, is op 30 Oktober te vroeg gebore nadat hulle meer as R1,3 miljoen se vee binne twee jaar verloor het ná die moord op Pieter se oupa en naamgenoot op dieselfde plaas.

Die beamptes van Vrystaat-Landbou (VL) se landelike veiligheidsplan op Ficksburg en boere het gister blitsig opgetree en uit die kerkdiens geglip om hulle na die plaas te haas.

Mnr. Vermooten het gesê die elektriese heining om die huis is oopgedwing en hul huishulp, mev. Celina Leeuw, is deur vier jong booswigte van Lesotho oorval en met ’n mes gedreig.

’n Windbuks, selfoon, skootrekenaar en sakke vol klere en speelgoed is gesteel.

“Ek is baie dankbaar vir die boere en mnr. Jordaan Marais, die beampte van Ficksburg se landelike veiligheid. Hulle het dadelik die spore gevolg.

“Daar was tot vyf bakkies by die grens. Van hulle het by my ma, Engeli, se huis gewag. Hulle het blitsvinnig gereageer.”

Leeuw het haar seun, Jacob, gebel, wat by die melkery op die plaas werk. Hy het mnr. Vermooten gebel, wat die landelike veiligheidsplan met ’n nood-SMS geaktiveer het.

Boere het hom dadelik gebel, selfs ’n paar wat in die kerk was.

Hy vermoed die rowers het geld gesoek. Hy los die kluis oop om te wys hy het nie vuurwapens of geld op die plaas nie.

Mev. Ilse Smit, koördineerder van landelike veiligheid op Ficksburg, sê Vermooten het sy selfoon-paniekknoppie om 10:00 geaktiveer.

Die reaksiespan het die spore gevolg en boere het die plaas van die Lesotho-grens af afgesper. Twee tasse met klere en twee messe is gekry.

Leeuw het die een mes uitgeken as ’n wapen waarmee sy aangehou is.

Die reaksiespan moes toekyk hoe die verdagtes oor die grens vlug, want nie een het magtiging gehad om die grens oor te steek nie.

Sy sê danksy die nood-SMS was boere dadelik bewus van wat gebeur het. Die toneel is vinnig bereik en afgesper. Só is verseker dat 90% van die gesteelde goedere teruggevind is.

Smit sê die veiligheidsplan is suksesvol as almal saamwerk. Die landelike veiligheidsplan werk danksy die boere, General Motors Suid-Afrika, wat ’n bakkie vir die veiligheidbeamptes borg, en Excel Ficksburg wat die diesel verskaf.

- Volksblad

http://www.volksblad.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/2114/e969550280d04c4bbd51ed30298cb26c/11-01-2010-01-38/Booswigte_slaan_weer_toe_op_grensplaas

Britse TV-ster rakelings gemis op ‘Vermoor-’n-toeris-dag’

2010-01-10 22:21

 

Smurfit Foto: BBC

Korrespondent

Londen. – ’n Britse TV-ster het gister onthul hoe ’n koeël sentimeters verby haar gevlieg het terwyl sy in die feestyd in ’n taxi in Strandstraat, Kaapstad, was.
Victoria Smurfit (35), bekend om haar rol in die BBC-reeks Ballykissangel, het in die Irish Mail on Sunday oor haar gesin se noue ontkoming op Oujaarsdag in die Moederstad geskryf.
Die aktrise se elmboog is beseer toe die koeël een van die taxi se vensters versplinter het, en haar ma, Caroline, moes in die hospitaal opgeneem word weens hartprobleme.
Volgens Smurfit het die polisie eenvoudig “ja, dankie” gesê toe hulle die voorval per telefoon probeer aanmeld het. Eers dae later is twee beamptes gestuur om verklarings af te neem.
“Skynbaar was die aanval deel van ’n bende-inisiasie. Dit was Vermoor-’n-toeris-dag en ons het in die pad gekom. Dit is frustrerend om nie te weet wie die skieter is nie.”
Die voorval kon nie gister deur die Wes-Kaapse polisie bevestig word nie.
Saam met Smurfit en haar ma was ook haar man, mnr. Doug Baxter, haar broer, Dermot, en sy vrou, Charlie.
Die koeël het laasgenoemde glo rakelings gemis toe dit deur die taxi se venster gevlieg het. Die groep was onderweg na ’n Nuwejaarspartytjie.
Smurfit, wat langs die bestuurder gesit het, het vertel hoe sy ’n paar oomblikke te bang was om om te draai, in geval een van haar familielede getref is.
Volgens haar het dit ’n langdurige uitwerking op haar familie gehad – haar broer is nou “obsessief” om gewelddadige misdaad in Suid-Afrika na te vors, terwyl sy self nog by tye huil by die gedagte oor wat kon gebeur het.

http://www.beeld.com/Content/Wereld/Nuus/1920/ee532073b7f1489aae269d77ef34c999/10-01-2010-10-21/Britse_TV-ster_rakelings_gemis_op_%E2%80%98Vermoor-%E2%80%99n-toeris-dag%E2%80%99

Bejaarde vrou in huis vermoor

2010-01-11 09:19

Die verdagtes het die sekuriteitshek afgebreek en die huis geplunder voordat hulle dit aan die brand gesteek het. (Foto verskaf)

Herman Eloff

Pretoria – ‘n Bejaarde vrou is Vrydagaand wreed in haar huis in Lyttelton aangeval en vermoor.
Kitty Botha (83) was glo alleen tuis toe die verdagtes toegang tot haar huis verkry het. Na bewering het die booswigte ‘n sekuriteitshek afgebreek en die huis geplunder voordat hulle dit aan die brand gesteek het.
Volgens Botha se kleinseun, Ryan Dekenah, het die bure omstreeks 20:30 rook uit die huis sien trek en met tuinslange probeer om die vlamme te blus.
Nooddienspersoneel is dadelik ontbied.
Botha se lyk is later in die gang van haar huis gevind. Haar worshondjie is ook dood gevind.
“Sy het reeds 55 jaar in haar huis gewoon en die laaste 27 jaar heeltemal alleen,” het Dekenah aan Nuus24 gesê.
‘n Lykskouing word Maandag gedoen om die presiese oorsaak van Botha se dood te bepaal. Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.
Die plaaslike polisie het die voorval bevestig. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
– Nuus24

http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/136d9868ad0f42e684bde0d0243e4ba2/11-01-2010-09-19/Bejaarde_vrou_in_huis_vermoor

Bloedbad’ op plaas in Vrystaat

2010-01-06 12:48

Johannesburg - In ’n toneel wat deur paramedici as ’n “bloedbad” beskryf is, is ‘n egpaar dood op hul plaas in die Vrystaat aangetref.
“Paramedici het op ‘n bloedbad afgekom toe hulle gisteraand na ‘n plaas ontbied is,” het Chris Botha, woordvoerder vir Netcare 911, gesê.
Botha het gesê dit blyk dat die moord op die plaas, Plaas Poortje, wat tussen Senekal en Steynsrus geleë is, laat Dinsdagaand plaagevind het.
“Die man (65) en sy 60-jarige vrou is as gevolg van ernstige trauma dood.”
Sers. Majang Mosupa het gesê geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
Mosupa het gesê die kragopwekker van die plaas het gaan staan en die vrou het gaan ondersoek instel, waarna sy met ‘n mes gesteek is.
Die vrou én haar man is geskiet.
Mosupo het gesê ‘n Chevrolet wat aan die vermoorde egpaar se dogter behoort het, is vroeër op die plaas gesteel.
- Sapa

Rowers rand klant, personeel aan

2010-01-05 10:51

Elsje Blair

Vier rowers wat moontlik verbind kan word met vorige gewapende rooftogte in Bloemfontein het eers personeel en’n klant in ’n kruidenierswinkel aangerand en toe met derduisende rande gevlug.
Van die personeel is erg getraumatiseer ná die voorval.
Supt. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, sê vier mans met klapmusse op het eergisteraand omstreeks 20:15 KwikSpar in Nantesstraat, Bayswater, beroof.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die polisie ondersoek die moontlikheid dat dié mans dieselfde verdagtes is wat in ander rooftogte in die stad betrokke was.
Die vier rowers het Sondagaand net voordat die winkel sou toemaak, die KwikSpar in Bayswater binnegestorm.
Hulle het klapmusse gedra en pistole op omstanders gerig. Een van die rowers het ’n pistool teen mnr. Augostino Goncalves, die eienaar, se kop gedruk en al die geld in die geldkluis gevat.
“Ek en my vrou was agter in die kantoor besig om toe te sluit toe hulle toeslaan. ’n Rower het my vrou deur die gesig geklap,” sê Goncalves.
Hy sê ’n rower het mev. Teresa Kühn, ’n kassier, met sy geweer oor haar kop geslaan. Sy het erg gebloei. Sy is in die Bloemfontein-Medi-Clinic vir die wonde aan haar kop en vir skok behandel.
“Ek het net gedink dit is die einde. Hulle was baie gewelddadig en gespanne. Daar was klante en kinders in die winkel.
“Hulle het ’n klant se T-hemp van sy lyf afgeskeur. Ek was bang hulle maak ’n vrou, wat met haar baba op haar heup daar gestaan het, seer.
“Toe ek die geld vir hulle gee, het hulle gevlug. Dit was alles binne twee minute verby. Dit is die tweede keer wat ek hier beroof is,” sê Goncalves.
Hy sê hy is nie seker hoeveel geld gesteel is nie. Wrensch sê die rowers het in ’n wit motor weggejaag.
Lede van die polisie se berede eenheid het gister heeldag die woonbuurt gepatrolleer.
Mej. Suné Janeke, ’n kassier, sê: “Ek is bewerig ná als wat gebeur het. ’n Gereelde klant het vanoggend saggies aan my arm geraak. Sy doen dit altyd as sy groet, maar dié keer het ek my lam geskrik. Ek gaan nou berading kry.”
Mev. Marlize Matthysen (33), ook ’n kassier wat aan diens was, sê: “Dit gaan my ’n rukkie vat om hieroor te kom. Hulle was roekeloos en onbeskof. Ek het gedink hulle gaan almal doodskiet. My oë is heeltyd op die ingang. Sê nou hulle kom terug? En dan is ons dalk nie so gelukkig nie.”
Mense met inligting oor dié rooftog, kan insp. Renier de Beer by 051-407-3600 bel.

http://www.volksblad.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/2114/b7781bd73ce4416fb9ff96ba6e1a4e07/05-01-2010-10-51/Rowers_rand_klant,_personeel_aan_

Man skiet rower dood

 

2010-01-04 09:00

Susan Cilliers
Dit was vir hom erg om die lyk van die rower te sien wat hy doodgeskiet het, maar die boodskap móét deurkom: Ons sal terugbaklei.
So sê die Oos-Rander wat Sondagoggend vroeg ’n aanvaller in sy buurman se huis doodgeskiet het.
“Dis erg om iemand in die oë te kyk, dan die lyk te sien en te besef jý het hom geskiet, of hy dit nou verdien het of nie,” het Louis Venter, ’n sakeman, Sondagmiddag in sy sitkamer in Negende Straat, Alberton, vertel.
“Mense moet weet ons ís bereid om vir onsself te veg.
“Ek het geen keuse gehad (as om te skiet) nie.”
Die drama het Sondag omstreeks 01:00 begin toe drie huisrowers Deon Holtzhausen se huis binnegestorm het.
Hy, sy vrou, Cecilia, en nog ’n egpaar het daar gekuier.
Holtzhausen, ’n bankbestuurder, het die gesin se honde by die agterdeur laat uitgaan.
“Toe ek die deur later wou toemaak, het die rowers daar gestaan. Een het ’n rewolwer op my gerig. Die ander twee het onderskeidelik ’n skroewedraaier en ’n mes in die hand gehad. Ek het gesê hulle moet alles vat.”
Holtzhausen het R3 000 uit die kluis aan die rowers gegee.
Die Holtzhausens se dogter het intussen wakker geword.
“Ek het my kamerdeur op ’n skrefie oopgemaak en die rowers en my pa se vasgebinde hande gesien,” het sy Sondag vertel.
Sy het Venter se seun, Dewald (17), met haar selfoon gebel en gesê daar is rowers in hul huis.
Die meisie het haar hokkiestok gegryp en haar kamerdeur probeer toedruk, maar die rowers het die deur oopgedwing.
Hulle het haar saam met die vasgebinde vier volwassenes op die kombuisvloer laat lê.
Holtzhausen het gesê die rowers het die R3 000 “soos kaarte” onder mekaar verdeel, kos uit die yskas geneem en sy motorsleutel gevra.
Dewald het sy pa ná die oproep wakker gemaak. Pa en seun het toe oor die muur tussen hulle en die Holtzhausens se huis gespring.
Hulle het deur die vensters gesien hoe die rowers in die Holtzhausens se kaste krap.
Venter het Dewald aangesê om die polisie te bel.
“Die vrouestemme binne die huis het toe ál hoe benouder geklink. Ek is by die agterdeur in toe al drie rowers na my hardloop. Die een met die rewolwer was voor.
“Ek het geskree hulle moet hul wapens laat val.
“Hulle het omgedraai en weggehardloop, maar toe die gewapende rower verby die gyselaars in die kombuis hol, het dit gelyk of hy na hulle mik. Ek het geskiet. Hy het geval en ek het oor hom gehardloop.”
Die skoot het die rower in die kop getref. “Die ander twee het agter ’n spieëlkas probeer wegkruip,” het Holtzhausen gesê.
Die polisie het opgedaag en dié twee in hegtenis geneem.
Hulle verskyn vandag in die Germiston-landdroshof op klagte van huisroof, het kapt. Steady Nawa, polisiewoordvoerder, gesê.
Hy het gesê ’n moorddossier oor die voorval sal aangelê word.
“Dis ’n formaliteit.”

http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/afcd2c083161495ea9a4e4e17b3a10dc/04-01-2010-09-00/Man_skiet_rower_dood
- Beeld

Lekeprediker se lyk langs pad gelos

2010-01-04 08:44

Fanie van Rooyen
Die lyk van ’n lekeprediker wat glo uit was op parool, is Donderdagoggend langs ’n pad in Sybrandskraal, naby KwaMhlanga in Mpumalanga, gevind.
Mnr. Lourens Potgieter, wat
in sy vyftigs was en by ’n myn gewerk het, het drie skietwonde gehad. Een hiervan was in die middel van sy voorkop.
Sr.supt. Pieter Masango, polisiewoordvoerder, het gister gesê dit wil voorkom of Potgieter by die myn naby Ekangala waar hy gewerk het, “in die styl van ’n teregstelling” vermoor is.
Sy lyk is sowat 25 km vanaf die myn gevind.
Hy het op sy maag gelê.
Potgieter het ’n swart pak aangehad. Daar was ook ’n skietwond in sy maag en een in sy borskas.
Die polisie het drie 9 mm-koeëldoppies by die myn waar Potgieter gewerk het, gevind.
Daar is ook vasgestel dat Potgieter se motor gesteel is.
“Ons vermoed hy is ná werk by die myn oorval en vermoor en sy lyk is langs die pad in Sybrandskraal gelos,” het
Masango gesê.Niemand is nog in verband met die moord aangekeer nie.
Beeld het verneem Potgieter se lyk het ook twee steekwonde van ’n skerp voorwerp gehad. Dit is skynbaar nie deur ’n mes veroorsaak nie.
“Dit wil ook voorkom of iemand hard op sy rug getrap het,” het dié anonieme ingeligte gesê.
Potgieter was volgens die ingeligte vroeër ’n gevangene by die Zonderwater-gevangenis in Cullinan en het, nadat hy op parool vrygelaat is, gereeld as lekeprediker met gevangenes in die tronk gaan praat.
Dit is onbekend waarom Potgieter in die tronk was.

http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/bf509759bc644c5ea6b6e0b05fff92db/04-01-2010-08-44/Lekeprediker_se_lyk_langs_pad_gelos