2010-02-26 05:41
Tom de Wet
WESSELSBRON. – Nege skoolseuns, almal deel van ’n bende met die naam van hul groep op hul lywe getatoeëer, is ná goeie speurwerk deur die polisie in hegtenis geneem weens inbrake op die dorp waartydens toerusting van duisende rande gesteel is.
Die verdagtes se ouderdomme wissel van 16 tot 19, en die letters SVK is op hul lywe getatoeëer.
Dit is volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, ’n afkorting vir die woorde “stout van k*k”.
Thakeng sê lede van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, die Welkomse honde-eenheid, en speurders van Bronville en Wesselsbron se misdaadinligting het vandeesweek ’n gesamentlike optrede op die dorp gehou.
Dit volg op ’n vlaag inbrake die laaste tyd ten tyde waarvan ’n groot klomp rekenaartoerusting, ’n skootrekenaar, elektriese toebehore en tientalle CD’s gesteel is.
Die verdagtes het reeds in die hof verskyn en die minderjariges is onder die sorg van hul ouers vrygelaat.
Dié van hulle ouer as 18 word aangehou.
Thakeng vra inwoners van Wesselsbron en Monyakeng wat die laaste paar maande moontlik slagoffers van die bende was, om konst. Tshidiso Kwanya by 079-493-6988, of insp. Pule Tau by 082-692-8797 082-692-8797 te bel.
Supt. Disebo Petsanyane, stasiekommissaris, het die polisiebeamptes wat by die deurbraak betrokke was vir hul goeie werk geloof.
- Volksblad
