2010-01-04 08:44
Fanie van Rooyen
Die lyk van ’n lekeprediker wat glo uit was op parool, is Donderdagoggend langs ’n pad in Sybrandskraal, naby KwaMhlanga in Mpumalanga, gevind.
Mnr. Lourens Potgieter, wat
in sy vyftigs was en by ’n myn gewerk het, het drie skietwonde gehad. Een hiervan was in die middel van sy voorkop.
Sr.supt. Pieter Masango, polisiewoordvoerder, het gister gesê dit wil voorkom of Potgieter by die myn naby Ekangala waar hy gewerk het, “in die styl van ’n teregstelling” vermoor is.
Sy lyk is sowat 25 km vanaf die myn gevind.
Hy het op sy maag gelê.
Potgieter het ’n swart pak aangehad. Daar was ook ’n skietwond in sy maag en een in sy borskas.
Die polisie het drie 9 mm-koeëldoppies by die myn waar Potgieter gewerk het, gevind.
Daar is ook vasgestel dat Potgieter se motor gesteel is.
“Ons vermoed hy is ná werk by die myn oorval en vermoor en sy lyk is langs die pad in Sybrandskraal gelos,” het
Masango gesê.Niemand is nog in verband met die moord aangekeer nie.
Beeld het verneem Potgieter se lyk het ook twee steekwonde van ’n skerp voorwerp gehad. Dit is skynbaar nie deur ’n mes veroorsaak nie.
“Dit wil ook voorkom of iemand hard op sy rug getrap het,” het dié anonieme ingeligte gesê.
Potgieter was volgens die ingeligte vroeër ’n gevangene by die Zonderwater-gevangenis in Cullinan en het, nadat hy op parool vrygelaat is, gereeld as lekeprediker met gevangenes in die tronk gaan praat.
Dit is onbekend waarom Potgieter in die tronk was.
0 Responses to “Lekeprediker se lyk langs pad gelos”