Rowers rand klant, personeel aan

2010-01-05 10:51

Elsje Blair

Vier rowers wat moontlik verbind kan word met vorige gewapende rooftogte in Bloemfontein het eers personeel en’n klant in ’n kruidenierswinkel aangerand en toe met derduisende rande gevlug.
Van die personeel is erg getraumatiseer ná die voorval.
Supt. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, sê vier mans met klapmusse op het eergisteraand omstreeks 20:15 KwikSpar in Nantesstraat, Bayswater, beroof.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar die polisie ondersoek die moontlikheid dat dié mans dieselfde verdagtes is wat in ander rooftogte in die stad betrokke was.
Die vier rowers het Sondagaand net voordat die winkel sou toemaak, die KwikSpar in Bayswater binnegestorm.
Hulle het klapmusse gedra en pistole op omstanders gerig. Een van die rowers het ’n pistool teen mnr. Augostino Goncalves, die eienaar, se kop gedruk en al die geld in die geldkluis gevat.
“Ek en my vrou was agter in die kantoor besig om toe te sluit toe hulle toeslaan. ’n Rower het my vrou deur die gesig geklap,” sê Goncalves.
Hy sê ’n rower het mev. Teresa Kühn, ’n kassier, met sy geweer oor haar kop geslaan. Sy het erg gebloei. Sy is in die Bloemfontein-Medi-Clinic vir die wonde aan haar kop en vir skok behandel.
“Ek het net gedink dit is die einde. Hulle was baie gewelddadig en gespanne. Daar was klante en kinders in die winkel.
“Hulle het ’n klant se T-hemp van sy lyf afgeskeur. Ek was bang hulle maak ’n vrou, wat met haar baba op haar heup daar gestaan het, seer.
“Toe ek die geld vir hulle gee, het hulle gevlug. Dit was alles binne twee minute verby. Dit is die tweede keer wat ek hier beroof is,” sê Goncalves.
Hy sê hy is nie seker hoeveel geld gesteel is nie. Wrensch sê die rowers het in ’n wit motor weggejaag.
Lede van die polisie se berede eenheid het gister heeldag die woonbuurt gepatrolleer.
Mej. Suné Janeke, ’n kassier, sê: “Ek is bewerig ná als wat gebeur het. ’n Gereelde klant het vanoggend saggies aan my arm geraak. Sy doen dit altyd as sy groet, maar dié keer het ek my lam geskrik. Ek gaan nou berading kry.”
Mev. Marlize Matthysen (33), ook ’n kassier wat aan diens was, sê: “Dit gaan my ’n rukkie vat om hieroor te kom. Hulle was roekeloos en onbeskof. Ek het gedink hulle gaan almal doodskiet. My oë is heeltyd op die ingang. Sê nou hulle kom terug? En dan is ons dalk nie so gelukkig nie.”
Mense met inligting oor dié rooftog, kan insp. Renier de Beer by 051-407-3600 bel.

http://www.volksblad.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/2114/b7781bd73ce4416fb9ff96ba6e1a4e07/05-01-2010-10-51/Rowers_rand_klant,_personeel_aan_

0 Responses to “Rowers rand klant, personeel aan”


Die kommentaar is tans gesluit.