2010-01-11 09:19

Die verdagtes het die sekuriteitshek afgebreek en die huis geplunder voordat hulle dit aan die brand gesteek het. (Foto verskaf)
Herman Eloff
Pretoria – ‘n Bejaarde vrou is Vrydagaand wreed in haar huis in Lyttelton aangeval en vermoor.
Kitty Botha (83) was glo alleen tuis toe die verdagtes toegang tot haar huis verkry het. Na bewering het die booswigte ‘n sekuriteitshek afgebreek en die huis geplunder voordat hulle dit aan die brand gesteek het.
Volgens Botha se kleinseun, Ryan Dekenah, het die bure omstreeks 20:30 rook uit die huis sien trek en met tuinslange probeer om die vlamme te blus.
Nooddienspersoneel is dadelik ontbied.
Botha se lyk is later in die gang van haar huis gevind. Haar worshondjie is ook dood gevind.
“Sy het reeds 55 jaar in haar huis gewoon en die laaste 27 jaar heeltemal alleen,” het Dekenah aan Nuus24 gesê.
‘n Lykskouing word Maandag gedoen om die presiese oorsaak van Botha se dood te bepaal. Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.
Die plaaslike polisie het die voorval bevestig. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
– Nuus24
0 Responses to “Bejaarde vrou in huis vermoor”