Britse TV-ster rakelings gemis op ‘Vermoor-’n-toeris-dag’

2010-01-10 22:21

 

Smurfit Foto: BBC

Korrespondent

Londen. – ’n Britse TV-ster het gister onthul hoe ’n koeël sentimeters verby haar gevlieg het terwyl sy in die feestyd in ’n taxi in Strandstraat, Kaapstad, was.
Victoria Smurfit (35), bekend om haar rol in die BBC-reeks Ballykissangel, het in die Irish Mail on Sunday oor haar gesin se noue ontkoming op Oujaarsdag in die Moederstad geskryf.
Die aktrise se elmboog is beseer toe die koeël een van die taxi se vensters versplinter het, en haar ma, Caroline, moes in die hospitaal opgeneem word weens hartprobleme.
Volgens Smurfit het die polisie eenvoudig “ja, dankie” gesê toe hulle die voorval per telefoon probeer aanmeld het. Eers dae later is twee beamptes gestuur om verklarings af te neem.
“Skynbaar was die aanval deel van ’n bende-inisiasie. Dit was Vermoor-’n-toeris-dag en ons het in die pad gekom. Dit is frustrerend om nie te weet wie die skieter is nie.”
Die voorval kon nie gister deur die Wes-Kaapse polisie bevestig word nie.
Saam met Smurfit en haar ma was ook haar man, mnr. Doug Baxter, haar broer, Dermot, en sy vrou, Charlie.
Die koeël het laasgenoemde glo rakelings gemis toe dit deur die taxi se venster gevlieg het. Die groep was onderweg na ’n Nuwejaarspartytjie.
Smurfit, wat langs die bestuurder gesit het, het vertel hoe sy ’n paar oomblikke te bang was om om te draai, in geval een van haar familielede getref is.
Volgens haar het dit ’n langdurige uitwerking op haar familie gehad – haar broer is nou “obsessief” om gewelddadige misdaad in Suid-Afrika na te vors, terwyl sy self nog by tye huil by die gedagte oor wat kon gebeur het.

http://www.beeld.com/Content/Wereld/Nuus/1920/ee532073b7f1489aae269d77ef34c999/10-01-2010-10-21/Britse_TV-ster_rakelings_gemis_op_%E2%80%98Vermoor-%E2%80%99n-toeris-dag%E2%80%99

0 Responses to “Britse TV-ster rakelings gemis op ‘Vermoor-’n-toeris-dag’”


Die kommentaar is tans gesluit.