Boewe blaas polisie met AK47

2010-02-26 06:35

Virginia Keppler

Johannesburg - Drie mans wat glo Woensdagoggend by die Fonteinesirkel in Pretoria met ’n AK47-aanvalsgeweer op ’n polisievoertuig geskiet het, is ná ’n wilde jaagtog aangekeer.

Die polisievoertuig se voorruit en ’n spieëltjie is flenters geskiet en dit is ook aan die linkervoorkant getref, maar nie een van die twee insittendes is getref nie.

Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het gesê drie mans het net voor 09:00 in ’n wit Volkswagen Jetta in Duncanstraat in Hatfield afgery toe ’n inspekteur en ’n konstabel van die polisie se snelreaksie-eenheid hulle opgemerk het.

“Die polisie het die voertuig agtervolg en in George Storrarrylaan het die polisiebeamptes hul blou lig aangeskakel en beduie die voertuig moet van die pad trek.

“Die Jetta het stadiger begin ry en toe by die Fonteinesirkel stilgehou,” het sy gesê.

“Die voorste passasier het halflyf by sy venster uitgehang en met ’n AK47 op die polisie losgebrand.

“Die polisie het teruggeskiet, maar was baie meer versigtig omdat dit nog spitsverkeer was.”

Weilbach het gesê die Jetta het in ’n suidelike rigting op die R21 gejaag met die polisie agterna.

“Hulle het hulp ontbied en die Pretoria-honde-eenheid, die polisie se lugvleuel en die Brooklyn- en die Sunny-side-polisiekantoor het gereageer.

“In Elephantweg in Monumentpark in Pretoria het die polisie die Jetta verloor, maar die polisiehelikopter het dit vinnig weer opgespoor toe die verdagtes in ’n noordelike rigting op die R21-pad gejaag het.”

Weilbach het gesê die Jetta het by Fort Klapperkop ingery waar die insittendes uitgespring en die bosse ingehardloop het.

Die polisiehond Rex het een van die mans aangekeer en polisiebeamptes die ander twee.

Die polisie het daarna byna vyf uur lank na die AK47 gesoek totdat hulle dit en ’n 9 mm-pistool in digte bosse teen die koppie gekry het.

Volgens Weilbach is die gearresteerdes in hul 20’s en kom hulle van Tembisa aan die Oos-Rand.

“Die polisie ondersoek ’n klag van poging tot moord en die besit van ’n onwettige vuurwapen. Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.”

http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/bc2fcd9f89234bcaa1ac315fa1e4bd8d/26-02-2010-06-35/Boewe_blaas_polisie_met_AK47

0 Responses to “Boewe blaas polisie met AK47”


Die kommentaar is tans gesluit.