Laai die AfriForum 911-noodknoppietoep hier af

Stap 1: Laai die toep af

  1. Gaan na Google Play (Android) of App Store (Apple) en soek vir “AfriForum 911-noodknoppie”.
  2. Laai die toep op jou slimfoon af. Onthou:
         – Android-slimfone: Die toep word slegs deur Android 6-sagteware en later ondersteun.
         – Apple-slimfone: Apple vereis iOS12.0-sagteware of later om die toep af te laai en te installeer.
         – Huawei-slimfone: Onderhandelinge is tans in die pylvak om die AfriForum 911-noodknoppietoep daar beskikbaar te stel.
  3. Onthou: Jy moet data op jou foon hê en jou slimfoon se liggingsdienste moet altyd aangeskakel wees om sommige van die toepfunksies te kan gebruik.

Stap 2: Registreer

  1. Maak die toep oop.
  2. Registreer op die toep deur jou selnommer in te sleutel en dan op “Dien in” te klik.
  3. Jy sal ’n eenmalige PIN via SMS ontvang. Tik dié nommer in die beskikbare veld in en klik op “Dien in”.

Stap 3: Skep ’n profiel

  1. Jy sal versoek word om ’n profiel te skep nadat jy geregistreer het.
  2. Tik jou e-posadres in.
  3. Tik jou naam in.
  4. Tik jou van in.
  5. Tik jou ID-nommer in.
  6. Tik jou geboortedatum in.

Stap 4: Nooi jou familie en vriende uit

  1. Klik op “My vriende” regs onder op jou skerm.
  2. Nooi jou familie en vriende uit deur op “Nooi vriende uit” te klik en die stappe te volg om ’n uitnodiging aan hulle te stuur om die toep af te laai.
  3. Sodra hulle die toep afgelaai en daarop geregistreer het, sal hulle onder “My vriende” gelys word.

Stap 5: Skep groepe (onbeperk)

  1. Klik op die “My groepe”-ikoon links onder op jou skerm.
  2. Klik op “Voeg nuwe groep by” regs bo van die “My groepe”-afrolkieslys.
  3. Kies een van die verstekprentjies vir jou groep se ikoon of gebruik die op-pyltjie om jou eie prentjie te laai.
  4. Gee ’n naam aan jou groep.
  5. Nou is die groep geskep en kan jy familie en vriende daarop insluit deur hulle een-een te kies.
  6. Stoor die groep deur op “Stoor” te klik.
  7. Jou groep sal nou in die “My groepe”-afrolkieslys verskyn.
  8. Klik op die navigasie-ikoon in die middel onder om na die tuisskerm terug te keer.
  9. Jou groepe sal almal in die “My groepe”-afrolkieslys bo-aan die tuisskerm verskyn, waar jy enige van dié groepe kan gaan kies.

Stap 6: Voeg afhanklikes by

(Elke AfriForum-lid word tot ’n maksimum van vyf direkte familielede as afhanklikes beperk.)

  1. Gaan na die hoofkieslys, klik op die blou en wit profielfoto links bo en klik op “Afhanklikes”. Die afhanklikes wat jy wil byvoeg, moet ook die toep aflaai en daarop registreer.
  2. Klik op “Voeg afhanklike by” regs bo.
  3. Kies die familielid vanuit jou kontaklys deur op hul naam te klik.
  4. Klik op “Ja” om hulle as afhanklikes by te voeg.
  5. Jy kan nog afhanklikes byvoeg deur op “Voeg meer by” te klik. Onthou: Elke AfriForum-lid word tot ’n maksimum van vyf direkte familielede as afhanklikes beperk. Wanneer jy meer as vyf afhanklikes wil laai, sal ‘n fooi vir elke bykomende afhanklike gehef word.
  6. Klik op “Gaan terug” as jy al jou afhanklikes klaar bygevoeg het.
  7. Klik op die terug-pyltjie links bo op die skerm om na die tuisskerm terug te keer.

Stap 7: Skep ’n noodkontakpersoon

  1. Klik op “My vriende” regs onder op die skerm.
  2. Maak seker dat jou kontaklys bygewerk is deur op “Herlaai vriende” te klik.
  3. Soek die persoon wat jy as noodkontakpersoon wil byvoeg deur op of af te rol of die soekfunksie te gebruik.
  4. Klik op dié kontak en aktiveer die kennisgewingfunksie deur op die “Stel in kennis in geval van nood”-knikskakelaar te klik.
  5. Wanneer jy ’n familie- of 911-noodalarm maak, sal dié gekose mense in kennis gestel word dat jy hulp benodig.
  6. Klik op die ikoon in die middel onderaan die bladsy om na die tuisskerm terug te gaan.

Stap 8: Skep ’n geo-afgebakende gebied

  1. Gaan na die hoofkieslys en klik op “Geo-afbakening”.
  2. Klik op die plus-ikoon om ’n adres op te soek, tik die straatadres in en kies dit uit die afrolkieslys.
  3. Stel die geo-afgebakende gebied se radius deur die glyskaal links of regs te skuif, en aktiveer kennisgewings deur die twee knikskakelaars aan te skakel.
  4. Klik nou op “Stoor”.
  5. Klik op die terug-pyltjie links bo op die skerm om na die tuisskerm terug te keer.

Hoe werk die AfriForum 911-noodknoppietoep?

Maak alarm vir gewapende reaksie

(Dit word beperk tot een per maand per AfriForum-lid en sy/haar afhanklikes, as ’n gedeelde voordeel.)

  1. Klik op die blou skild-ikoon aan die regterkant van die tuisskerm.
  2. ’n Aftelling van drie sekondes sal begin.
  3. Jou alarm is nou aan jou sekuriteitsmaatskappy gestuur, asook na jou familielede wat jy as noodkontakpersone aangewys het.
  4. Sodra die sekuriteitbeheerkamer jou alarm gekry het, sal hulle jou bel. As jy nie antwoord nie, sal hulle gewapende reaksie ontbied.
  5. Sodra jou alarm deur ’n familielid gesien is, sal jy ’n kennisgewing ontvang.
  6. Sodra die familielid na jou toe begin navigeer, sal jy ’n tweede kennisgewing ontvang.

Maak alarm vir ’n mediese noodgeval

(Dit word beperk tot een per maand per AfriForum-lid en sy/haar vyf afhanklikes, as ’n gedeelte voordeel.)

  1. Klik op die rooi mediesekruis- ikoon aan die regterkant van die tuisskerm.
  2. ’n Aftelling van drie sekondes sal begin.
  3. Jou alarm is nou na ER24 gestuur, asook na die familielede wat jy as noodkontakpersone aangewys het.
  4. Sodra ER24 jou alarm gekry het, sal hulle jou bel. As jy nie antwoord nie, sal hulle mediese dienste ontbied.
  5. Sodra jou alarm deur ’n familielid gesien is, sal jy ’n kennisgewing ontvang.
  6. Sodra die familielid na jou toe begin navigeer, sal jy ’n tweede kennisgewing ontvang.

* Mediese vervoerdienste en ander mediese kostes word nie deur hierdie voordeel gedek nie en sal vir die lid se eie rekening wees.

Inisieer ’n vriende-alarm (onbeperkte kere)

  1. Klik op die oranje mens-ikoon aan die regterkant van die tuisskerm.
  2. ’n Aftelling van drie sekondes sal begin.
  3. Jou alarm is nou na al jou familielede gestuur wat jy as noodkontakpersone aangewys het.
  4. Sodra jou alarm deur ’n familielid gesien is, sal jy ’n kennisgewing ontvang.
  5. Sodra die familielid na jou toe begin navigeer, sal jy ’n tweede kennisgewing ontvang.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!