AfriForum 911
Spyskaart

Hoe om aan te sluit

As AfriForum-lid kwalifiseer jy reeds vir ’n beperkte nooddiens. Enige AfriForum-lid kan die noodlyn skakel en hulself identifiseer deur ’n ID-nommer, lidmaatskapnommer of geboortedatum aan die noodsentrum te verskaf. Die noodsentrum bevestig dan lidmaatskap en kan ’n beperkte, gratis telefoniese diens lewer. Dié diens sluit gesondheidsadvies in, asook telefoniese traumaberading in ’n noodgeval en die reël van ’n ambulans indien nodig. Let asseblief daarop dat dié noodoproepe direk aan die AfriForum 911-noodlyn  by 0861 116 154 (beskikbaar 24 uur) gemaak moet word en dat jy asseblief nie die ambulansdiens direk moet ontbied nie.

AfriForum-lede kan ook vir ’n uitgebreide nooddiens registreer; Hoe meer inligting ons het, hoe beter kan ons enige krisis hanteer. Lees meer oor die verskillende dienste waarvoor u kwalifiseer in die oranje tabelle op die webtuiste. Elke AfriForum-lid ontvang ook ’n groen armband waarop die noodlynnommer in oranje gedruk is. Daar is ook ’n unieke 5-karakterkode wat in die armband versink is en nie in oranje gedruk is nie. Hierdie unieke kode word gebruik om vir die uitgebreide diens te registreer. Registreer op die webtuiste; indien jy nie toegang tot ’n rekenaar of internet het nie, is jy welkom om ons by 086 10 200 30 te skakel om die nodige inligting te verskaf. Jy kan ook op die webtuiste vir jou gesinslede ekstra bandjies van verskillende groottes teen R10 elk bestel.

Sodra jy die armband met die unieke kode byderhand het, kan jy inligting oor jou en jou gesinslede se mediesefondsbesonderhede, adres, bloedgroepe, allergieë, familie en bure se kontaknommers en so meer intik deur op die skakel op die tuisblad te klik. Jou wagwoord sal verseker dat jou persoonlike inligting beskerm word en nie deur buitepartye bekom kan word nie.

Die registrasie van die besonderhede onder die unieke kode op die armband sal ook handig wees as jy byvoorbeeld bewusteloos is of in ’n geval waar jong kinders verdwaal. Die nooddienste of ander hulpgewers kan dan die nommer op die armband skakel en met behulp van die unieke kode die identiteit van die draer en sy/haar familie se kontakbesonderhede opspoor.

Sou jou vriende en familie ook moontlik in hierdie diens belangstel, maar nog nie lede van AfriForum is nie, kan jy hulle besonderhede hieronder invul. AfriForum sal hulle dan skakel en help om aan te sluit. Benewens die AfriForum 911-nooddiens wat hulle ontvang, sal hulle ook help om AfriForum nog sterker te maak. Hoe sterker AfriForum is, hoe meer projekte kan ons in belang van ons mense aanpak.

Registreer hier as jy reeds ‘n AfriForum-lid is

© 2013–2014 AfriForum. All Rights Reserved